Eksamengroetes
Inleiding
Van 2005 tot 2008 het ek met sommige eksamens s.g. “Eksamengroetes” aan my “alma maters” uitgestuur. Hulle was hoofsaaklik mense wat saam met my klasgedraf het. Die Eksamengroetes was bedoel as ‘n bemoediging vir my vriende in die komende eksamens en om hulle te herinner dat ons verenige was in ons aparte akademiese stryde.
Eksamengroete
28 Oktober 2005
Hello aan my Alma Matertjies
Al die tekens is daar: aardbewings, orkane, oorstromings, tsunami’s, die Vrystaat wat die Curriebeker gewen het… ja, die eindtyd is naby. Presies watter eindtyd is debateerbaar, maar een ding is seker: ons was nog nooit só naby aan die begin van die eindeksamen (en, by implikasie, die einde van die eindeksamen) soos wat ons nou is nie. Wat jy saai sal jy maai en in hierdie pragtige sonskyn weer waarmee ons nou so geseënd en getart word is dit nou oestyd; tyd om wys wat ons geleer en vergeet het!
Sommige van ons is gelukkig genoeg om net ‘n handjievol vraestelle te skryf. Ander is dankbaar dat hulle darem twee dae tussen al hul (legio) vraestelle het om te leer. Ons is egter almal hier omdat ons op een of ander vlak hier wil wees. Selfs al het iemand ‘n geweer teen jou kop gehou kon jy nogsteeds gekies het om te kyk of jy die knal kan hoor voor jy dit voel… Dit is juis hierdie feit wat my soms pla: ons is almal hier uit eie vrye wil, maar ons kla en moan en bitch soms dat dit goed gaan! Daarom volg ek die volgende filosofie nou al van hoërskooldae af: as jy iets (kwansuis) móét doen, geniét dit! Selfs al skryf jy en jy voel bedruk daaroor, daar is altyd iets positiefs om te vind, selfs al is dit skynbaar belaglik (vir ander mense). Lig jou ken op, stoot jou bors uit en beweeg vorentoe! En as jy per abuis lekker skryf, sit een van daardie smaails op wat almal anderste net altyd wil afklap. Aan die einde sal daar in elk geval vir jou ‘n kussing en ‘n (troos-) dop by die huis wag.
Hoe dit ookal sy, sien julle aan die anderkant van die Rubicon!
Wat ‘n jaar! Nuwe woonplekke, nuwe mense, neste wat amper afbrand, kultuur, sport, kompetisies, wynproë, restaurante beproef, taalstryde, politieke polimieke, optredes, water drink, dronk dink, eindlose koppies koffies… om maar net ‘n paar goedjies uit te lig. Ai, die jaar was so kort, ‘n mens kan ‘n halwe jaar lank wonder oor hoe só baie dinge in só ‘n kort tyd gebeur het. En dan praat ons nie eens van al die ure, dae en weke wat afgestaan is aan leer en werk nie… Geen mens is ‘n eiland nie en al het ek hierdie feit al baie dispuut, besef ek altyd aan die einde weer dat dit wel so is. Ons almal steun op ‘n mindere of ‘n meerdere mate op mekaar: dis die bietjie interaksie tussen en na klasse wat ‘n persoon by sy sinne hou, die flou grappie wat sommer die week se stres verlig en die medeleie wat ‘n mens bemoedig. Daarom wil ek nou ‘n dankie sê aan almal wat dit verskuldig is en die res: dankie vir al die grappies, die medeleie, die ledige tut periodes, die koppies koffie, die verduur, die afskryf, die verspottigheid en wysheid verskuil as ‘n e-pos en alles anderste.
Vir die afgelope maand nou al luister ek hoe die platejoggies op KFM (Leeromgewingsfout #23) heeltemal gobsmacked is oor die feit dat daar al Kersfees reëlings getref en inkopies gedoen word. Dis dan nog maande ver weg! Maar die Stellenbosse student weet dat wanneer daardie laaste studieweek eindig, die jaar verby is. En jy het gedink die derde kwartaal het vinnig verby gegaan! Maar ek moet sê dat ek self vandag omkant gevang is deur ‘n kersfees jingle in ‘n advertensie op die radio. (Ek vra dat julle asseblief aan my broer sal dink wat ‘n naam met ‘n sekere takbok deel en baie moet verduur in hierdie tyd van die jaar, veral daar in die noorde waar hy nou woonagtig is.) Ek dink nie ek is al gereed daarvoor nie, maar dit bring tog die blye tyding van vakansie en son. Ek moet bieg dat ek nog nie my vakansie behoorlik beplan of deurdink het nie; ‘n mens moet mos op die werk gefokus bly! Maar ek vertrou dat julle al meer konkrete planne as ek het: kuier by die familie, wegkom van die familie, verkas voor die TV, staptogte, see toe gaan, oorsee gaan, drie maande se slaap in een in haal, extreme sport… wat jy ookal beplan, net soos tevore, geniet dit ten volle! Die vakansietyd is eindig en dit is jou verantwoordelikheid om elke oomblik goed te benut.
As dit hoegenaamd vir jou moontlik is, moet asseblief nie uitstel vat op ‘n vraestel nie! Trust me on that one.
So groet ek dan nou julle, my Alma Matertjies, oues en nuwes, oues en jonges, ouens en vrouens. As ek julle nie in die eksamenlokale, daar tussen of daarna sien nie, sterkte! En vir die eksamens en die vakansie: geniet dit! Allons!
Student nommer 1xxxxxxx,
xxxxxx xxxxxx
Wintereksamengroete aan die Alma Maters
21 Mei 2006
Heil die leser!
Die winterkind het gekom: sy asem is dit koue wind van Antarktika af kom en die reën is sy trane wat stort vir die Stellenbosse studente wat nou weer op eksamen staan. Wel, dis darem nie so erg nie, maar ‘n bietjie melodrama elke nou en dan hou die sirkulasie aan die gang en die verbeelding skerp. Maar die verbeelding moenie in hierdie eksamen té geoefen raak nie: dit is erg genoeg om snoesig op ‘n bed in die wintersonnetjie te moet sit en leer sonder dat die verbeelding soos ‘n trop perde op loop sit!
Soos met elke seisoen se begin kan ‘n mens sê dit is ‘n goeie tyd om die ou gewoontes te begrawe en aan iets nuuts geboorte te gee… is ‘n gedeelde hot chocolate dan nie meer doeltreffend as ‘n sinkhete Valentynsdag nie? Of doen ‘n onverwagte pannekoek of breakfast-in-bed nie meer om jou te laat besef hoe baie jy jou ma eintlik waardeer as wat ‘n Clicks advertensie doen nie? Sien iets ordinêrs in ‘n nuwe (kers-)lig. Maak ‘n belofte aan jouself en verbreek dit. Of hou dit. Wat ook al die uitkoms, raak iets ryker daaruit.
Maar voor die donker leemte van die vakansie ons oorval is daar die baie klein formaliteit van die eksamen: dit is nou nie so grênd soos die eindeksamen nie, maar kleinboet is ook nie ‘n katjie wat sonder handskoene aangepak moet word nie. (Dit is ook een van daardie min dinge waarmee Chuck ons nie kan help nie). Die Universiteit (in al sy wysheid) het besluit dat Wiskundige Wetenskappe ‘n kort, maar skerp, steekpyn van ‘n eksamen gaan hê. Maar, elkeen dra sy of haar eie sware las en ek gaan niemand s’n verkleineer nie. Wat joune ookal is, hoop ek dat jy dit sterk sal dra en tops anderkant sal uitkom. Sterkte met die eksamen, leer hard en, soos altyd, geniet dit!
En wanneer alles klaar is: gaan ontspan en gaan span uit. Ons het as ‘n span die spanninge verduur en as ‘n span sal ons verligte uitasemings aan die moeës rus en slaap gee. Gaan vlug en gaan maak kop skoon. Wat jy doen of waar jy gaan, gaan veilig, maar onthou dat hierdie was maar slegs die halftyd fluitjie…
Die bome is egter nie die enigste wesies wat hierdie winter kaal in die reën staan nie.
Groete aan al die alma maters!
xxxxxx
Grooteksamen Groete aan die Alma Maters!
30 Oktober 2006
Groete weereens aan die alma maters!
Ja, dit is alweer daardie tyd van die jaar: die tyd van skemerkelkies, van blou lug, 7de Laan in die daglig, katte en honde wat verhaar en baljarende skoenlappers wat voor jou motorruit in vlieg! Ja, dit is alweer krieket seison! Maar, voor die kaalvoet kinders die brandende sole ervaar, voor die kaalbolyf braaiers die sis-geluid kan hoor en die kaalrug brander ryers die seewater kan gaan sluk, moet ons eers daardie reg verdien en dít doen ons deur nóg ‘n eksamentjie te gaan skryf.
Hierdie eksamentjie is egter vir sommige van ons spesiaal: vir van ons is dit die Groot Eksamen, in die sin dat dit die laaste (voorgraadse) eksamen is. Wanneer daardie laaste vraestel ingegee word, sal die generiese nommer skielik aan die anderkant van die produksielyn uitrol as ‘n gerespekteerde alumnus (met naam en al!). Vir botter of vir wors, sê ek, maar wel verdien.
Vir van my alma maters is hierdie die laaste speletjie wat hulle saam met die Bos speel. Vir hulle wil ek graag sê dankie dat hulle die afgelope drie jaar die reis deur akademia, die een waar ons ontdek het wat ‘n wonder én wat ‘n klug dit is, saam met my deurgemaak het. Indien dit bestem is dat ons paaie permanent skei, wens ek hulle al die beste vir die lang pad vorentoe toe. Ek hoop ek sal eendag in die agtergrond oor die radio of oor die TV jou naam hoor wanneer hulle met ‘n “kenner” praat of berig oor ‘n verering. Gaan rus nou goed, julle sal dit verdien het ná die Groot Eksamen.
Vir die masochistiese alma maters wat, saam met my, weer volgende jaar deur die eike strate beweeg (hetsy omdat ons bloot werklike besluitneming uitstel al dan nie), baie sterkte vir julle en gaan rus en gaan rus goed ná jul sege oor dít wat julle só lank al probeer breek. Wanneer die wiel weer begin draai sal ons ‘n bietjie ouer, ‘n bietjie slimmer en, mees belangrik, ‘n bietjie wyser wees.
Ons staan nou aan die einde van nóg ‘n jaar. Ons kan dit nie terugneem nie en ons kan dit nie verruil nie. Geleenthede is nie almal wederkerend nie en berou bly lank met jou. Vader Tyd staan altyd en terugkyk en koggel hy oor die skade wat hy al alles berokken het. Tyd is ‘n nare ding, maar ook ‘n wonderlike en ‘n kosbare ding. Ek hoop jou jaar was ryk en jou herinneringe daaraan vol goeie tye. Vir die tyd wat nou is en die tye wat kom: gryp elke kans aan en maak die meeste van elke dag! Omring jouself met geliefdes en loop saam met hulle jou lewenspad, want dít is ‘n goeie manier om jou tyd te spandeer.
Gaan uit, handel jou verantwoordelikhede af en gaan ontspan. Verloor jouself in ons pragtige son en gaan raak weggevoer op ‘n goue strand met ‘n diep-blou see. Moet asseblief tog net nie die sonbrandmiddel vergeet nie!
This is the way it ends, “Not with a bang”…
Groete van my en André de Villiers, wat my goedgunstig deur die skryf van hierdie brief vermaak het:
Vasbyt.
Sterkte.
Geniet dit!
Moeë Groete aan die Alma Maters
21 Mei 2007
Weereens is dit vir my ‘n plesier om groete te stuur aan my alma maters! Die eerste semester van die jaar is alreeds amper op sy alie. Maar hóé kan dit wees? Nuwejaarsvieringe is dan nog so vars in die geheue. Maar hoeveel het ook nie al in die tussentyd gebeur nie? Take, klasse, toetse, opdragte, laat nagte, data, inligting, begrip, wanbegrip, geen begrip, projekte… Kan dit wees dat die kollektiewe bewussyn van die studente die tyd heimlik omgewens het en dat ons dit reggekry het? Dit is ‘n sonde om so iets te doen, ja, maar die jaar was tot dus ver baie straf gewees. Dit is moontlik dat dit net ek is wat só voel, maar as ek na my mede studente kyk (dié wat te siene en te vinde is), kom ‘n mense aan die hangskouers, rooi oë en bravade-glimlaggies agter dat almal hul eie, ewe swaar, las dra. Hoe het dit gebeur? Waar het dit alles vandaan gekom? Dit is asof alles tegelyk soos ‘n dief in nag gekom en ons almal katswink geslaan het.
Sou ons nege maande gelede ons hierdie situasie kon indink? Die lewe was toe alreeds dol gewees, maar dit was nog sonder die nuwe dimensies, wat hulself deurgaans aan die lewe vasheg, waarmee ons nou elke dag mee saamlewe. Soms raak dit effens baie en dan vra jy jouself af: hoe het ek tot op hierdie punt gekom? Die Stellenbosse student is moeg en op die knieë gedwing. Uitgeput, bang, benoud en seer lê die student op die koue vloer en ruk en skree en kerm. Die koue en die nat en die donker buite, in en om jou maak jou bang en jy voel alleen sonder die vermoeë om dit te kan beskryf. Maar sjh-, sjh-, sjh-, sjh-, sjh-, sjh-, sjh-, sjh-, sjhhhhhhhhhhhh. Toula, baba, toula. Raak stil, word rustig. Kruip styf teen die warm boesem vas en voel hoe die veiligheid jou omvou. Ai, as jy maar net ‘n begrip gehad het van die liefde wat daar vir jou is. Wat jy nou voel is ‘n instinktiewe verknogtheid vir die warmte, maar jy is wérklik kosbaar bo enige iets wat jy jouself nou kan indink. Dit is nie meer nodig om te skree nie – kyk, jy is alreeds ses maande oud. Hoe baie het jy nie al deurgemaak en gegroei in dié tyd nie? Jy is al met vuur gelouter, maar elke dag leer jy om sterker as die dag tevore te wees en hoe om nuwe probleme te oorkom. Jou gekreun verraai so baie dinge wat diep in jou siel en gees verberg is. Waar sal jy nie oor nóg ses maande wees nie? Dan sal ons al begin om ‘n vae benul te hê van die wonderlike wêreld, idees en insigte waar rondom jou gedagtes so sorgvuldig geweef word. Die wêreld dink hulle leer jou iets, maar jy gaan nog die bordjies verhang en die onderrig doen. Wat sal jy tog nie met ons deel nie en hoe sal jy ons nie heel nie? Maar eers moet ons wag: eers kom daar nuwe beproewinge en ons gaan almal moet werk om ons beentjies te versterk en die spiertjies te groei.
We are all heroes, but it is not easy to be so.
Waarom was hierdie semester só swaar gewees? Toe ek een van my dosente gekomplimenteer het op die hoë standaard van haar kurses, het sy bloot geantwoord dat daar niks spesiaal aan die standaard was nie. Die verskil het by die studente gelê: óns het die ekstra myl afgelê en onsself en mekaar uitgedaag om hoër te streef. Die werk was baie gewees, ja, maar hierdie erkenning en belydenis was ‘n groot klop op die skouer. Ek glo egter dat dit nie net vir my klas waar is nie: my alma maters werk hard en daag hulself uit tot nuwe hoogtes. Vind bemoediging daarin dat, selfs al voel jy asof jy sukkel om kop bo water te hou, jy eintlik nie verdrink nie, maar net swaar asem haal in die dun lug: jy het die berg al só hoog geklim. Dit mag dalk ‘n skrale troos vir die semester se letsels wees, maar ten minste stel ons onsself nie teleur nie, ongeag wat die uitkomste is. As jy moeg en ongelukkig is en voel asof jy op die punt is om ondergekry te word, stoot jou bors uit en maak jou rug reguit: jy is sterker as jou laste. Stuur ‘n lofsang die hemel in, want wanneer ons swak en nederig is, besef ons weereens dat ons blye afhanklikes is wat nie op ons eie krag kan of hoef staat te maak nie. Byt vas en bly sterk. Leer om ‘n balans te tref en leer om jou prioriteite te onderskei. Ons is deurgaans besig met ‘n leerproses wat boekekennis ver oortref: om moeilike en belangrike besluite self en met insae te neem. Ons het nie die universiteit daarvoor nodig nie, maar sonder dit sou ons beproewinge bloot van elders af gekom het.
‘n Vriendskap gebeur nie oor ‘n website nie.
‘n Groot, warm en hartlike groete aan die alma maters! Ek wil nou ook my dank oordra aan die alma maters wat my hierdie kwartaal ondersteun het vir hul bystand, geduld en medelye. Sterkte aan almal met wat ook al voorlê in die volgende paar weke. Wanneer die eksamen klaar is, gaan rus, heel en word weer mens. As jy egter in die vakansie gaan móét werk, doen dit gematig. Hou moed, hou kop, hou hande vas en hou aan met glo en werk en leer! Geniet dit!
“The key is not to prioritise what is on your schedule, but to schedule your priorities.”
Groete
Ongespesifiseerde Eksamengroete
12 Mei 2008
Heil aan die alma maters!
Aan wie sal ek skryf? Wat sal ek skryf? Soos ‘n ou man wie al te veel vriende gegroet het, vra ek wie nog oorbly. Daar is altyd nuwe mense, ja, verseker! Maar daar is net een groepie mense met wie jy kan wees soos wat jy altyd was. Wat daar wás en wie onthóú – mense met wie jy gedeel het, in teenstelling met bloot die meedeel van ou stories aan nuwelinge.
Maar ek praat in hiperbole: ver weg is die grysheid en, helaas, so ook die wysheid. Van vriende is daar ook, genadiglik, nog nie afskeid geneem nie; almal is gekoppel deur ‘n onsigbare tot-weer-siens. Die alma maters is bloot versprei in die wind. ‘n Klein universiteitsdorpie in die suide van Afrika is so vol soos wat dit nog altyd was, maar ook leeg in ‘n sekere sin. Die res bewandel die uithoeke van die aarde; sommige naby en ander ver. Soos ‘n hart wat bloed deur die hele liggaam stuur om alles mooi aan die werk te hou, net so moet elkeen na sy of haar hoekie of vlakte of krans of dal gaan. Ons word gestuur om werk te gaan doen, want elkeen moet bydra tot die liggaam se welstand. Ons moet swoeg, arbei, speel en leer.
Almal se paaie is ook nie dieselfde nie. Sommige gaan ‘n lang, stowwerige pad stap, terwyl ander deur diep waters gaan moet swem, storm winde moet trotseer of deur die lug sweef soos ‘n arend. Dit is nie die reis wat belangrik is nie, maar eerder die bestemming en wat jy geleer het wanneer jy daar aankom. Dit is goeie nuus, want dit beteken dat, waar elkeen van ons ookal is, ons aan die begin van ‘n reis staan. Niks bring soveel nuwe ervaringe, uitdagings en trots soos ‘n lang reis in die onbekende in nie.
Sommige van my alma maters begin die ouderdom voel soos ‘n kind wat aan ‘n ma se rok trek. Ek moet erken, dit is maklik om gedagtes van oud wees te koester wanneer die kerk klokke lui, of as die ouer nog ‘n grys haar of plooi bykry, of die onwelkome eensaamheid van onafhanklikheid jou een laatmiddag tussen die oë tref. Wat kan ek aan hierdie alma maters sê? Hoe kan ek hulle oortuig dat hulle – ons – nog papnat agter die ore is? Dalk kan ek nie. Miskien is dit nie vir my bestem om insig oor sulke diep filosofiese vrae te hê nie. Al wat ek weet, is dat toe ek klein was, het ek altyd duidelike idees gehad van wat ek sou wees wanneer ek eendag groot is. Daar was verskillende sulke watte, toegegee, maar op enige gegewe tyd was die prentjie altyd kristalhelder. Tans pas ek geen prentjie, hetsy vanuit die verlede of selfs die toekoms, nie, dus kan ek nie groot wees nie. En as ek nie groot is nie, dan is ek nog klein. En ek kan nog droom oor groot word eendag. En, dalk, dalk is dit met jou ook so…
‘n Ander subversameling van alma maters wat, soos sekere mense dalk kan redeneer, het reg om die ouderdom aan hul bas te voel knyp. Wat ek egter eerder by hulle sien, is die stoute vonkel-in-die-oog wat ‘n mens by ‘n kind sien wat kwaaddoen beplan. Vir hierdie mense is ek dankbaar, want dit wys vir my dat, selfs wanneer nog ‘n helfte van my lewe, of selfs ‘n hele lewe, verloop het, daar nog baie ruimte vir jonk wees is.
Ai, om te kan reis! Wat ‘n voorreg! Die jeuk wil my sommer behoorlik pak om die pad te vat: nie omdat ek wil wegkom of iets wil ontsnap nie, maar omdat ek wil sien en leer en seerkry en lag. Maar ek moet wag. Almal se tyd kom en niemand se pad is dieselfde as sy buurman s’n nie. En tog, natuurlik, aan die einde van die reis is die belofte om te kan terugkeer na familie en vriende. Niemand se pad is dieselfde as haar buurvrou s’n nie, maar as jy alleen stap, is jy op die verkeerde pad.
Aan al die jong mense wat al lank op reis is en al die ou mense wat nog die eerste treë moet gee: dankie vir die geselskap en dat ek kan deel in al die skater en ween. Sterkte met alles wat voorlê! Wie weet, dalk loop ek jou eendag by ‘n kruispad raak. (Maar moenie bekommerd wees nie: ek gaan nog vir ‘n lang tyd onder Stellenbosch se lug en berge en die dik, grou kombers wat alles tans bedek, wees.)
O, natuurlik: as jy moet eksamen skryf, sterkte daarmee! En geniet dit!