Studentesimposium

This entry was posted Monday, 30 November, 2009 at 22:22

Ek het lanklaas ‘n artikel in Afrikaans geskryf, maar gelukkig het ek nou die perfekte onderwerp vir een. :-)

29-30 Oktober het ek ‘n studentesimposium in Bloemfontein bygewoon.  Dit was die eerste keer wat ek so iets bygewoon het, so ek gaan nou my tyd neem om dit oor te vertel.  My studieleier het my eintlik al maande voor die tyd aangesê dat ek moet inskryf, so dit was al iets waarvoor ek al lank gewag het.  Die simposium word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) aangebied.  Dit word jaarliks gehou en bring nagraadse studente vanuit feitlik al die wetenskapsvelde1 bymekaar om na mekaar se navorsing te luister.  Dit is die enigste van sy soort wat eksklusief in Afrikaans aangebied word.  Ek dink ‘n meesterstudent is altyd huiwerig wanneer hy of sy aangesê word om vir iets in te skryf, maar ek het gereken dat, indien niks anders nie, ek ‘n gratis “vakansietjie” na ‘n “nuwe stad” sou kry! :-)

Die vorige keer wat ek in Bloemfontein was, was ek 6 jaar oud gewees.  Ek onthou dit glad nie2.   Dus het ek hierdie besoek as my eerste3 aan die Stad van Rose beskou.

“Weet jy wat sê mense ook van Bloemfontein?”
“Nee?”
“Dat ‘n mens twee keer daaroor huil: een keer wanneer jy daarnatoe gaan en die ander keer wanneer jy daarvan af moet weg gaan.”

Ek is in die baie bevoorregde posisie om ‘n vriendin te hê wat tans in Bloemfontein bly; ‘n baie gawe vriendin wat my toegelaat het om by hul te bly vir my tydjie daarso.  Ons kom al van skooldae af saam, so dit was ‘n idiale geleentheid om mekaar weer te sien en op te vang.  Sy het my by die lughawe kom optel en ons was sommer dadelik soos twee ou vrinne, selfs al het ons mekaar lanklaas gesien.

Haar familie se huis was regtig iets besonder.  Die hele familie is kunstig en hul kunswerke pronk orals.  Die huisie is knus en sekerlik ‘n hele paar dekades oud.  My gunsteling deel van die huis was egter die tuin.  Ek het die geluk getref dat die re”ens kort voor my aankoms begin het.  Wat my dus ingewag het was ‘n sag, groen grasperk wat hoofsaaklik omring was deur volblom roosbosse.  Daar was ook ‘n lapa met stoele en hangmatte: alles element wat ‘n atmosfeer skep wat die hele buitewêreld uitsluit sodat daar net rus, vrede, die honde, die kat en familie is om op te fokus.

Daardie eerste aand was daar ‘n spesiale openingsfunksie vir die simposium: ‘n geleentheid aangebring ter herdenking van die 100ste bestaansjaar van die SAAWK.  Hiervoor het ons na die Boyden-sterrewag buite die stad gegaan.  Die simposium het amptelik afgeskop met ‘n lesing… een waaroor ek nogal baie verras was.  Dit was aangebied deur ‘n professor van fisika van die Universiteit van die Vrystaat en het ‘n apologetiese benadering tot kosmologie geneem.  Hy het geargumenteer vir ‘n middelgrond tussen extreme evolusionisme en extreme kreasionisme en dat ‘n mens nie net in een kant van ‘n argument moet vasstaar nie.  Hierdie aanbieding was die uitvloeisel van die professor se eie werk van die afgelope tyd om sy geloof en sy werk as wetenskaplike te vereenselwig.  Natuurlik was dit ‘n baie kontroversiële onderwerp en hy het gehoop dat die praatjie tot gesprekvoering onder die studente sou lei.  Ongelukkig was die praatjie nie (onmiddellik) vreeslik suksesvol in daardie opsig nie: van die studente het die bloot afgemaak as bog.  Ek (en ek is seker ‘n paar ander studente ook) het dit egter baie waardeer en heel interessant gevind.  Na die praatjie was daar ‘n baie lekker vingerete gewees4 en daarna het ons die sterrewag ‘n bietjie getoer.  Ek het eerste die rooi 13″ refraksie-teleskoop5 gesien.  Daardeur het ek vir die eerste Jupiter as meer as net ‘n spikkel in die lug gesien: mooi duidelik, grys en met drie van sy mane wat bo hom gepronk het.  Dit was pragtig!  Dit verg baie min vir ‘n persoon om sy of haar hart op astronomie te verloor.  Ons het ook die maan van ‘n bietjie nader besigtig.  Daarna het ons die 1.5m teleskoop gaan besigtig en uiteindelik die nuwe 16″ robotiese teleskoop.  Teen die einde van die aand was ons redelik moeg gewees en het ons na ons onderskeie blyplekke teruggekeer (sommige van die studente moes nog hul skyfies gaan voltooi het!).

Die volgende oggend vroeg het ek saam met my gasheer se pa ‘n geleentheid na die universiteit gekry.  Na registrasie het ons weer ‘n lesing gehad: hierdie keer oor patentereg.  Ek het egter nie veel daarby gebaat nie (ek het geleer dat Suid-Afrika het nie sagtewarepatente toelaat nie—iets waarteen ek in elk geval fundimenteel gekant is).  Daarna was ons in drie groepe verdeel en is verdaag na ons onderskeie lokale, waar daar vir die res van die dag aanbiedings gelewer is.  Ek was in die “fisika en IT”-groep wat in die senaatsaal—’n waardige en swaar kamer van leer, sigare en konjak—vergader het.  Die fisika-mense het afgeskop.  Die eerste praatjie was vir my goed gewees, maar ek het geskrik toe die aanbieder byna met die eerste vraag gekelder is.  Ek het besef dat die praatjiebeoordelaars hierdie geleentheid baie erenstig opneem en hul kennis hopeloos té divers is.  Ek het ook begin kriewelrig raak oor ‘n ander rede: ek het gedink my praatjie is hopeloos te kort.  Ek het nooit voor die tyd my praatjie behoorlik geoefen nie.  So het, tussen deur aandag gee probeer dink wat ek kan bysê om my praatjie uit te rek.  Op die ou end het ek aan genoeg goed gedink om my praatjie met twee skyfies uit te rek.  Gedurende die middagete het ek probeer om hierdie skyfies by te sit, maar ek het nie my LaTeX-kode saamgeneem nie en kon dus nie.  Ek sou dus die tyd wat ek op ander skyfies spandeer het uitrek om die addisionele goed te sê.

Dit was bestem dat ek laaste in ons groep sou praat.  Gelukkig is laaste ‘n plek waarmee ek baie goed vertroud is.  Ek weet nie of dit so beplan was nie, maar die praatjies in my sessie het rofweg van groot na klein geloop: eers die astro-fisika en golwe en goed en daarna materie strukture en molekules.  Die beste praatjie, wat my aanbetref, was van ‘n vrou wat ‘n spesifieke sterregroep bestudeer het.  Ek gaan nie in die besonderhede ingaan nie, maar ek was beïndruk met die wetenskaplike metode wat sy uitgelê het en met die resultate wat sy verkry het en haar gevolgtrekkings.  Die fisika-praatjies het die hele oggendsessie geduur.  Na middagete het die “IT” sessie begin.  Ek moet bieg dat die kwaliteit van hierdie praatjies vir my nie so goed soos die vorige sessie s’n was nie.  Dit was hoofsaaklik weens die merkbare swakker taalgebruik van die sprekers (die fisika-mense het hulself in hierdie opsig goed van hul taak gekwyt).  Van die woorde wat ek daar gehoor het was werklik walglik.  Uiteindelik het my beurt aangebreek.  Ek voel ek het goed gepraat, maar ten spyte van my vrese dink ek het ek op die ou end oor my tyd gegaan.  Dit was moeilik om die gehoor te lees: ‘n handjievol mense het ingekom om na my praatjie te luister, maar ek het omtrent die minste vrae van al die sprekers gehad.  Nadat ons verdaag het, het ek egter met ‘n paar mense gepraat wat gesê het dat hulle baie van my praatjie gehou het en baie geïnteresseerd was.  Na ‘n kort breuk het almal weer saam vergader, was die bedankings gedoen en die pryse was uitgedeel.  So het ‘n baie lang, maar interessante, dag tot ‘n einde gekom.  Terug by my gashere was ek te moeg om nog die aand iets verder te doen, so ons het maar ontspan en ek het vroeg bed toe gegaan.

Wat ek teen die einde van die dag besef het, was dat die vreemdste ervaring van die dag nie die feit dat al die dag se praatjies in Afrikaans was nie, maar juis dat daardie feit vir my nie vreemd was nie.  Die hele dag deur het ek tegniese praatjies in Afrikaans gehoor met tegniese terme in Afrikaans.  Tog het ek nie ongemaklik daarmee gevoel nie.  Dit gee vir my hoop vir my moedertaal.  Die simposium is die enigste van sy soort in die land vir wetenskap in Afrikaans, maar dit werk.  Die taal is jonk, maar nog nie verouderd deur vooruitgang nie.  Ek glo dat met harde werk hierdie taal nog lank met ons sal wees.  Dit ís vir my ‘n mooi taal en ek sal graag meer tyd daarin wil spandeer.

Die volgende dag het ek en my vriendin beplan om opsy te sit sodat sy vir my ‘n bietjie deur Bloemfontein kon wys.  Ongelukkig kon ons nie die hele dag hieraan afstaan nie, want sy het ‘n eksamen gehad wat sy oor twee dae moes gaan skryf en nog voor moes leer.  Bloemfontein is meer ‘n baie groot Karoo-dorp as wat dit ‘n stad is.  Die strate is breed en die ou deel laat ‘n mens nie twyfel dat dit as ‘n nedersetting begin is deur ‘n groep boere wat landin gevlug het agter oopte en vryheid aan nie.  ’n Mens kon ook ‘n aanvoeling hiervoor by die Boeremark kry: ons eerste stop vir die dag.  Die Boeremark is ‘n fantastiese markie waar ‘n mens baie interessanthede en nuttighede teen goeie pryse kan vind.  Daarna het ons na die waterfront toe gegaan.  Ek is baie skepties oor enige iets wat ‘n waterfront genoem word en nie langs die see is nie; of ten minste langs ‘n baie groot meer.  Maar vir ‘n paar jaar lank nou al kan ek nie meer vinger wys nie, want die Tygerwaterfront is gebou rondom ‘n groot artifisiële gat.  Die water daarvan is omtrent (soos ek gesien het) vergelykbaar met dié in Bloemfontein.  Die waterfront bestaan hoofsaaklik uit ‘n groot, generiese inkopiesentrum.  Dit is ‘n hartseer herinnering dat selfs hierdie stad, hierdie dorp waar daar nog so baie Afrikaans gepraat word en waardes vanuit ‘n langvergete verlede nog bestaan. nie kan ontsnap van Geld nie.  Dit sal altyd inhaal en verniel en afbreek net sodat dit weer kan opbou en eenders maak: altyd nog ‘n inkopiesentrum met wit teëls en nagemaakte marmer, altyd nog ‘n chic uiteetplek en nog ‘n kettingwinkel.  Altyd eenders: bring die beskawing na dié wat hierdie nie het nie.

Ek was egter wel bly om laatmiddag uit te dorp te kon gewees het.  Dit was daardie dag een of ander rugbytoenooifinaal en vir ‘n kort tydjie daarna was ek vanaf my gunsteling kleur, oranje, afgesit.  Mense is bloot nie só fanaties oor rugby in die Kaap nie.  Dit is iets waaraan ek glad nie gewoond is nie.  Ja, ‘n mens weet van die Bloubulondersteuners en hoe mal hulle tekere kan gaan, maar ek het nie die see van oranje jagluiperds verwag nie.  Ek hou in elk geval nie van rugby nie en het die middag rustig by my gashere deurgebring.  Die bure het my egter min-of-meer op hoogte gehou en teen die aand was alles rustig, want die Cheetas het die onderspit gedelf.  Op daardie stadium was dit al skemer en het dit liggies begin donderweer.  In die Kaap is donderweer baie skaars en ek het dit gewaardeer om dit so ‘n bietjie daar anderkant te ervaar.  Somerreën is egter iets wat vir my heeltemal volksvreemd is: ek ken dit nie regtig nie en glo nie dis reg nie.  Reën moet in die winter val wanneer die KOUD en NAT is en in die somer moet die SON skyn wanneer die WARM en DROOG is.  Tog… tog was daardie middag vir my vreeslik lekker.  Ek het buite onder die lapa gaan sit en gekyk hoe die groot reëndruppels op die nuwe tuintafeltjie val.  Bo my was daar ‘n fantastiese reënboog.  Vir ‘n tydjie was ek verlore in alleenheid: ‘n suspensie van tyd in rustigheid en stil vrede.  Aantreklik?  Ja, Bloemfontein kan aantreklik wees, net soos ‘n boernooitjie van die ou dae met die ou dae se waardes.  Wie sal nie na haar toe gaan nie?  Haar nie wil leer ken nie?

Die volgende oggend het ek saam met my vriendin na haar kerk toe gegaan.  Dit is deel van die NCMI-groep, wie ek glad nie ken nie, maar dit het vir my na ‘n goeie en heilsame kerk voorgekom.  Na jare wat hulle in ‘n skoolsaal kerkgehou het, was hulle uiteindelik besig om ‘n kerkgebou te bou terwyl ek daar was.  Die fondament was alreeds gelê, maar die mure was nog nie op nie.  Ons het dus onder ‘n tent op die kaal sement kerk gehou: werklik ‘n interessante ervaring.  Na kerk (ons moes dit egter ongelukkig effens kortknip) het ons direk na die lughawe gegaan.

Wie wil die boerenooi nie leer ken nie?  Maar ek moet terug na die see toe gaan.  Ek moet daardie oopte hê en die vryheid van die berge en die heuwels.  Ek moet van die wingered af pluk en eet en ek moet regte stede en regte dorpe vereenselwig.  Dit was baie lekker in Bloemfontein en ek sal weer gaan; om die waarheid te sê, sien ek nou nóg meer uit na die res van die land verken.  Maar ek glo dat, aan die einde van die dag, is hierdie my huis en hier waarheen ek sal terugkeer.  Dit is nie kortsigtigheid of hardkoppigheid nie: dit is hoe dit is.

  1. Die “kuns”-deel van die Akademie het glo hul eie ding wat hulle doen… []
  2. Dalk met goeie rede: dalk het ek gedog dis nog ‘n dorp waardeur ons gery het. :-P   Meer as enige iets anders lyk Bloemfontein meer soos ‘n groot Karoo-dorp as enige iets anders.  Ek kon dalk ook geslaap het.  Dis egter vreemd, wat ek kan die gaan van daardie besondere vakansie onthou, maar absoluut niks van die terugkom nie… []
  3. Alhoewel, blykbaar, was my eerste toe my ma gegaan het vir ‘n sonar daar… []
  4. Die kos by die simposium was deurgans baie goed gewees! []
  5. Ek praat onder korreksie, maar ek dink dit het eens op ‘n tyd diens by die bekende Mount Wilson sterrewag gedoen. []

1 Comment to Studentesimposium

  1. Rudi Pretorius says:

    June 10th, 2010 at 09:03

    Hi – het jou persoonlike weergawe van die dag se gebeure baie geniet! Dankie dat jy dit deel. Groete Rudi

Leave a comment